Welkom by die Hemel & See Boeke blog

Hemel & See Boeke sal jou kommentaar waardeer.

Gebruik gerus die vorm hieronder:


Hemel & See Boeke is in 2000 gestig met die doel om boeke van besondere gehalte te publiseer. Vandag geniet ons erkenning as een van die suksesvolle klein uitgewerye in Suid-Afrika. Die maatskappy is in Vermont gebaseer.





APRIL 2013


APR 29

Briewe is ’n ryke bydrae

posted by Petrovna on April 29, 2013 17:11 as ALGEMEEN




Briewe is ’n ryke bydrae


Rapport 2013-04-06 23:22

 


Mits dese wil ek vir jou sê saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Uitgewer: Hemel & See. Prys: R220


Daniel Hugo


In dié bundel briewe bewys Hennie Aucamp hom as dokumenteerder van die sosiaal-kulturele verskynsels van ’n tydperk én as die "bestendiger” van ’n bepaalde groep se geesteslewe, skryf Daniel Hugo

Hennie Aucamp moet een van die laaste mense op aarde wees wat nog briewe met die hand skryf, dit in ’n koevert sit, ’n seël opplak en pos. Ek sal maar die volle waarheid verklap: Hy het nog nooit ’n tikmasjien of rekenaar besit nie en het sy lewe lank staatgemaak op pen en papier. 






Daarom was hy ook sy lewe lank afhanklik van tiksters. Sy ganse, omvangryke oeuvre het so tot stand gekom. Hennie sal waarskynlik ’n interessante essay kan wy aan sy ervarings met tiksters. Die keur uit sy briewe van 1958 tot 2011 is besonder netjies uitgegee. Dit beslaan byna 400 bladsye boeiende leesstof. 

Die boek se waarde word verhoog deur ’n inleidende oorsig van Aucamp se lewe en werk, saamgestel deur Erika Terblanche. Daar is ook verklarende voetnote by die briewe en twee dele met foto’s op glanspapier. 

In haar voorwoord gee Petrovna Metelerkamp ’n idee van die tematiese verskeidenheid van die briewe: die wêreldletterkunde, beeldende kuns, rolprente, musiek, gay-wees, Boesman-navorsing, bergklim, ekologie, skryfkuns, die dood... 

Agterin die boek is ’n uitgebreide persoonsregister wat strek van Paul Alberts, fotograaf, tot by Elzabé Zietsman, sangeres. Amper al die bekende figure in die Afrikaanse wêreld van die letterkunde, teater en beeldende kunste uit die afgelope halfeeu kom in hierdie register voor. As die briewe nie aan hulle gerig is nie, word daar wel met waardering na hulle verwys. Want Hennie Aucamp is nie net ’n dokumenteerder van die sosiaal-kulturele verskynsels van ’n tydperk nie, maar ook die "bestendiger” van die geesteslewe van ’n groep, die Afrikaanse mens. 

In ’n brief aan Aletta Lübbe (30 Mei 2000) twyfel hy egter of dié groep enige erg aan ’n kulturele tradisie het. Hy twyfel ook oor homself en wonder: "Stry ek vir taal en geesteswaardes uit geloof en idealisme, of het my stryde al roetine geword?” 

Aucamp is nogal uitgesproke pessimisties oor dié "stryde” in ’n brief aan die kortverhaalskrywer Pieter Wagener. Hy kritiseer sy groepsgenote, maar nie sonder selfspot nie: "Klink ek na ’n Boer in die laaste loopgraaf? 

Maar ek ís ’n Boer in die laaste loopgraaf, met ’n paar bittereinders links en regs van my, party vroue. Die meeste – en dit sluit Afrikaanse skrywers in – is al met wit vlae oor die vlak om te gaan hensop en join.”

Jonger Afrikaanse mense deel waarskynlik nie Aucamp se doemdenke oor die taal nie. Wat hy as taalbesoedeling beskou, sien hulle meestal as taalversoepeling. Hulle sal wel met die volgende uitspraak saamstem wat hy in ’n brief maak aan sy mede-pessimis J.C. Steyn: "As ek ‘Afrikaner’ skryf, plaas ek die woord tussen aanhalingstekens, want jy haal letterlik aan – uit die verlede.” 

Die aforistiese stelwyse van die opmerking maak dat dit ’n mens bybly. Al stem jy nie saam met sy opvattings nie, bly jy tog vasgenael lees omdat Aucamp so trefseker formuleer. Hier is nog ’n aforisme uit ’n brief aan die digter Lucas Malan wat aan die Weskus (Darling) gebly het: "Kreatiewe mense, soos sekere wingerde, moet nooit ver van die see af wees nie.”

Ondanks Aucamp se kultuurpessimisme weerklink daar ’n refrein deur die briewe. Hy verwys dikwels na I.D. du Plessis se kaalvoetklonkie wat bly sing "bo ’n somberte in sy hart”. In ’n brief aan Elisabeth Eybers (12 November 1994) brei hy hierop uit: "En wat sing ek? ‘Dalk gaan niks verlore nie’ (Van Wyk Louw). Wat, o wat, sal ons sonder ons digters maak? Hulle praat in ons woordklank mee...” Die briefskrywer – en die voetnootverskaffer! – laat na om te sê die laaste sin is óók ’n aanhaling uit Van Wyk Louw (uit sy "Ballade van die Bose”). Die briewe is deurspek met sitate uit die Afrikaanse letterkunde. Dit getuig nie net van Aucamp se belesenheid nie, maar is klaarblyklik ook deel van sy poging om die kultuur van ’n groep te bestendig. As die digters nie meer in die taalgebruik van dié groep meeklink nie, vind ’n kulturele verarming plaas. ’n Vakuum ontstaan dan wat onstuitbaar deur die allesoorheersende Engelse verbruikerskultuur gevul gaan word.

Benewens briewe aan kollegas, kennisse, familielede en vriende bevat die bundel ook briewe aan die pers waarin Aucamp sy kommer uitspreek oor die agteruitgang van die taal, Afrikaanse teater en die stad Kaapstad. 

In ’n voetnoot by ’n brief aan Die Burger verduidelik Aucamp: "Waarom skryf ek aan die pers? Omdat ek in die nag wakker gemaak word deur ’n stem, en ek uit die Bybel weet dat jy jou nagtelike stemme nie durf ignoreer nie. In hierdie geval oor moedertaalverontregting in die Nuwe Suid-Afrika, en ’n nuwe Angliseringsbeleid wat die vroeë Engelse bewindhebbers aan die Kaap na amateurs laat lyk.” 

Aucamp gee ook ’n ander verklaring vir sy "openbare briewe” aan Johann de Lange (2 Januarie 1997). Hy sê sulke briewe moet saam met die ander gebundel word, want hy is in die verlede al daarvan beskuldig dat hy nie sosiaal-polities betrokke genoeg is nie en net skryf oor sy private ache. Die digter Barend Toerien het destyds sout in die wond gesmeer deur te praat van sulke skrywers se aching privates! 

Aucamp protesteer daarteen en sê: "Ek is dus gesteld daarop dat ’n briewebundel ook afreken met die vals beeld wat daar van my geskep is – moedswilliglik en ook kwaadwilliglik – as esteet in sy ivore toring.” 

Of hierdie bundel daarin slaag, is wel ’n vraag omdat ­Aucamp se briewe aan die pers eers van 1994 dateer. Uit die struggle-jare is ongelukkig niks ingesluit nie. Mits dese wil ek vir jou sê – die titel kom uit Boerneef se berggans-gedig – is ’n pragtige toevoeging tot die gebundelde briewe van MER, Audrey Blignault, W.E.G. en N.P. van Wyk Louw, Peter Blum en Uys Krige. Nie net Petrovna Metelerkamp moet bedank word vir hierdie boek nie, maar ook Aucamp se naamlose tikster. 

Hugo is ’n uitgewersredakteur en vertaler by Protea Boekhuis.


comments (0)




1 - 1 of 1

NUUTSTE PUBLIKASIE - 'n Plan is 'n duineboerdery

Gesprekke oor Ingrid Jonker

Gesprekke oor Ingrid Jonker

Amanda Strydom oor Briewe van Hennie Aucamp

Kommentaar oor Briewe van Hennie Aucamp



ONLANGSE POS




ARGIEF


october 2013

july 2013

may 2013

april 2013

march 2013

december 2012



TOPICS


ALGEMEEN (8)



admin*