Welkom by die Hemel & See Boeke blog

Hemel & See Boeke sal jou kommentaar waardeer.

Gebruik gerus die vorm hieronder:


Hemel & See Boeke is in 2000 gestig met die doel om boeke van besondere gehalte te publiseer. Vandag geniet ons erkenning as een van die suksesvolle klein uitgewerye in Suid-Afrika. Die maatskappy is in Vermont gebaseer.





JUL 22

Gesprekke oor Ingrid Jonker

posted by Petrovna on July 22, 2013 8:35 as ALGEMEEN




Gesprekke oor Ingrid Jonker: Waardevolle toevoeging vir Jonker-verslaafdes

Lizette Grobler


Gesprekke oor Ingrid Jonker
Skrywer: LM van der Merwe
Uitgewer: hemel & see boeke
ISBN: 0-620-37159-5

Bestel by: hemelensee@hermanus.co.za


Sedert Nelson Mandela in 1994 die gedig "Die kind" voorgelees het in die parlement, het die ikoniese Ingrid Jonker toenemend aandag ontvang in die media en die uitvoerende kunste (Opdrag: Ingrid Jonker en Altyd Jonker). Heelwat publikasies, wat vertalings (Gerrit Komerij, Jack Cope en William Plomer), tesisse (Erna Sadie, Johan van Wyk en Elkarien Fourie) en tekste met biografiese materiaal (Henk van Woerden, Petrovna Metelerkamp) insluit, is ook gepubliseer. Hierby kan nog gevoeg word die netwerk van intertekstuele gedigte wat erkenning gee aan Jonker as vormende invloed op Afrikaanse digters. As tragiese figuur het Jonker egter veral vanweë haar kontroversiële lewensgeskiedenis in die kollig gestaan.


LM van der Merwe se boek Gesprekke oor Ingrid Jonker, onder redaksie van Petrovna Metelerkamp, is die jongste toevoeging tot hierdie korpus tekste. Hy het reeds in 1977 ’n reeks onderhoude gevoer met tydgenote van Jonker as deel van die navorsing vir sy proefskrif Ingrid Jonker: ’n Psigologiese perspektief wat hy in 1978 voltooi het. Na die publikasie van Metelerkamp se Ingrid Jonker: Beeld van 'n Digterslewe (2003) het hy die twaalf kassetbande met onderhoude aan haar voorgelê. As ondervraer het hy gesprekke gevoer met PJ Nienaber, Anna Jonker, Jan Rabie en Marjorie Wallace, Cor Pama, Berta Smit, Freda Linde, WA de Klerk, Freda Linde en Pieter Claassens, Jonker se psigiater, Uys Krige, Huibrecht Steenkamp en André Brink. Anna Jonker het die onderhoud met Freda Linde en Pieter Claassens en ook die ontmoeting met Huibrecht Steenkamp gereël en was aktief betrokke by albei.


Juis Anna Jonker het ’n dekade lange verbod op Van der Merwe se proefskrif geplaas en nadat hy haar aan die begin van 1988 herinner het aan die verstryking daarvan, deels weens geldelike nood en die belangstelling van ’n uitgewer, het sy uiters negatief gereageer – in so ’n mate dat hy "die boek en [sy] hart net daar toegemaak het” (15).


Metelerkamp het tydens haar navorsing vir Ingrid Jonker: Beeld van ’n Digterslewe insae gehad in Jan Rabie en Marjorie Wallace se kopie van Van der Merwe se proefskrif. Sy het Van der Merwe uiteindelik genader met die versoek om daaruit aan te haal en hom op dié manier aangemoedig om weer sy proefskrif en die navorsingsmateriaal nader te trek.


Uiteindelik motiveer hy sy uitgawe soos volg: "Die hoop is dat die interpretasie van Ingrid se lewe deur haar vriende en tydgenote ons sal help om van haar lewe te leer, die wêreld deur haar oë te kan sien, maar ruimer, om sodoende die kuns van menswees beter te bemeester (16).” Van der Merwe probeer ook – soos Metelerkamp, wat doelbewus nie ’n biografie wou skryf nie en die beskikbare feite objektief wou aanbied – om Jonker nie te etiketteer nie (12).


Kommentaar op die uitgawe het reeds gedui op die voyeuristiese plesier waarmee die leser insae kry in die "intieme verhoudingsnetwerke van Ingrid Jonker” (Nuusbrief van Larissa van Staden vir Protea). Wat ook opval, is die kontras tussen die oortuiging en oordeelkundigheid waarmee die subjekte hul indrukke van Jonker deel – van die huiwerige Berta Smit wat verwys na die "baie gate tussenin”, haar beeld van Ingrid wat "’n bietjie brokkelrig is” en wat dink oor "hoe gou mense eintlik vir jou vaag word” (114) en dus die onbetroubaarheid van menslike herinnering beklemtoon, tot en met Majorie Wallace se gebrek aan huiwering om kontroversiële stellings te maak oor aborsies wat Ingrid volgens haar sou ondergaan het (vergelyk ook hier Van der Merwe en die redakteur se kommentaar - 72).


Naas die ontbloting van die onderhoudsubjekte se karakter is ’n ander opvallende aspek die eiesoortige onthulling van die onderhoudvoerder se sonderlinghede. ’n Mens sou hier kon dink aan Phineas G Nanson, AS Byatt se romankarakter uit The Biographer’s Tale: sy ambisieuse voorneme om ’n biografie oor die biograaf van sir Elmer Bole, Scholes Destry-Scholes te skryf, openbaar uiteindelik heelwat oor Nanson self. Van der Merwe se indrukke, wat alterneer met die kommentaar van sy subjekte, dien soms as ’n toonvenster van sy erudisie. Vergelyk byvoorbeeld sy korreksie na aanleiding van Anna se opmerking oor Ingrid se emosionele ouderdom (27), sy interpretasie van Freda se opsomming van Ingrid se gemoedstoestand (135-6), en die onderhoud met die psigiater waarin besin word oor Ingrid se geestestoestand (197). Hy evalueer ook sy subjekte se kennis van sy dissipline, byvoorbeeld wanneer hy hom uitlaat oor Rabie se greep op die kliniese sielkunde (68). Verrassend is sy ontwapenend eerlike subjektiewe gewaarwordings oor die oordeel wat sy subjekte oor hom vel – Rabie wat hom "geweeg en bietjie lig bevind [het]” [71], Brink wat hom "getakseer het” [255]), en sy ongemak in ’n onderhoudsituasie waar hy die ietwat ambivalente getuie van ’n relaas word wat spruit uit ’n persoonlike vendetta teen Lulu Brewis, wat as die argetipiese wrede stiefmoeder voorgestel word [onderhoud met Jonker en Steenkamp, 228]. Verder gebruik hy ook die onderhoudsubjekte as klankbord vir sy etiese oorwegings rondom die publikasie van sy navorsingsubjek se ongepubliseerde jeugwerk (onderhoude met Freda Linde [149] en André P Brink [251]) en onderhoude as podium vir sy eie perspektiewe op sake, byvoorbeeld selfmoord (onderhoud met Brink, 242-3).


Anders as die reeks onderhoude in Gesprekke met Skrywers wat vanaf 1971 tot 1973 verskyn het, het ons hier, beskou vanuit die perspektief van die ondervraer, ’n baie persoonliker aanslag, met selfs die onthullende introspeksie wat die hedendaagse outo-etnografiese tekste kenmerk (sien byvoorbeeld Carolyn Ellis se metodologiese roman The Etnographic I. A Methodological Novel about Autoethnography [2004] waarin sy ook retrospektiewe onderhoude met haar navorsingsubjekte voer).


Of alle Afrikaanse lesers noodwendig die verdraagsaamheid het vir so ’n introspektiewe en soms effens ekshibisionistiese benadering tot onderhoude, is natuurlik ’n vraag wat die sukses van die publikasie sal bepaal.


Vir Jonker-verslaafdes en navorsers bied die teks egter ’n waardevolle toevoeging tot Metelerkamp se Ingrid Jonker: Beeld van 'n Digterslewe, veral aangesien dit die fragmente van Van der Merwe se werk wat Metelerkamp reeds in haar teks geïntegreer het, in konteks plaas.  


comments (0)




1 - 1 of 1

Gesprekke oor Ingrid Jonker

NUUTSTE PUBLIKASIE - 'n Plan is 'n duineboerdery

Gesprekke oor Ingrid Jonker

Amanda Strydom oor Briewe van Hennie Aucamp

Kommentaar oor Briewe van Hennie Aucamp



ONLANGSE POS




ARGIEF


october 2013

july 2013

may 2013

april 2013

march 2013

december 2012



TOPICS


ALGEMEEN (8)



admin*