hemel & see boeke

Die prinses in elke vrou deur Cas van Rensburg


Die prinses in elke vrou

Cas van Rensburg

Sagteband, 153 bladsye

ISBN: 978-0-620-51038-7

R130,00












Die meeste mense glo hulle drome en ideale sal nooit verwesenlik word nie. In hierdie boek vertel Cas van Rensburg hoe dit wel vir elke vrou moontlik is om haar innerlike potensiaal te ontwikkel sodat sy soos ‘n prinses kan voel.


Cas van Rensburg is ook die skrywer van die boek Jou Drome – die onbewuste het ál die antwoorde.


Aanhalings uit Die prinses in elke vrou deur Cas van Rensburg:


In die afgelope dekades was daar drie "sprokieshuwelike” wat die verbeelding van byna die ganse mensdom aangegryp het, naamlik dié van prinses Diana met prins Charles, Kate Middleton met prins William en Charlene Wittstock met prins Albert van Monaco . . . Die groot waarheid is dat daar ’n prinses in elke vrou is.


. . . prinse en prinsesse is argetipes wat in alle mense leef. Almal wil iemand spesiaal wees, mooi en gelukkig en geborge in die liefde van iemand wat eweneens adellik van gees is.


Daar lê in elke mens ’n akker wat tot ’n boom kan en moet groei . . . Soveel mense sterf sonder dat hulle ooit hulle roeping vervul het.


Van almal van ons in wie Diana se dood ’n snaar aangeraak het, sal beswaarlik een persent by ’n

terapeut kan uitkom! Daarom moet ons leer om onsself te help.

NOU BESKIKBAAR

Ingrid Jonker - A Poet’s Life

by Petrovna Metelerkamp



The first comprehensive biographical publication on the life of this young South African poet Ingrid Jonker who became an icon and a legend. Ingrid Jonker drowned at the age of 31.

'She was both a poet and a South African. She was both an Afrikaner and an African. She was both an artist and a human being. In the midst of despair, she celebrated hope. Confronted by death, she asserted the beauty of life.'


Nelson Mandela

In hierdie boek gaan ons spoorsny na party van die bekende sprokies en mites wat mense kan help om ’n beter begrip te kry van hoe hulle gelukkiger kan leef.


Mense speel speletjies met mekaar. Baie min is ryp en seker genoeg van hulself om tevrede te volstaan met: "Ek het jou lief en baie dankie dat jy vir my ook lief is. Want ek glo jy bedoel dit as jy dit sê.”



RESENSIE


Selfkennis danksy Sneeuwitjie, Diana en Jung

Soos verskyn in die Beeld 2012-04-29 en Die Burger 2012-04-30

 

     Met die neersit van Cas van Rensburg se maklik leesbare en nuut geredigeerde boek het ek gevoel soos iemand wat dae lank aan die voete van ’n ghoeroe gesit het.
     Wie anders sou soveel wysheid kon ontgin uit die oorbekende Sneeuwitjie-sprokie!
     Ons lees sprokies is eintlik baie waardevolle spieëls. Dit wys die dapper siele onder ons watter vreemde karakters in ons binnewêreld bly.
     Van Rensburg verduidelik hoe sprokies eeue oue waarhede bevat; basiese patrone van menslike gedrag, ervarings en verhoudings.
"Daar is lewenskennis in ons wat selde indien ooit benut word ... alte dikwels spook hierdie oerervarings by ons. Soms staan hulle op en vat oor.
"Prinse en prinsesse is argetipes wat in alle mense leef,” skryf hy. Almal wil spesiaal wees en hul ware self uitleef. Eintlik handel die boek oor "die diepste van alle waarhede: hoe om gewoonweg mens te wees, gestroop van alle waan, en naak”.
     Dus, jouself.
     Ongelukkig, soos Sneeuwitjie en prinses Diana wat as gevallestudies gebruik word, ly baie van ons onder ’n wrede innerlike stiefma of "swart” koningin; iemand wat ons laat glo ons verdien nie om gelukkig te wees en liefgehê te word nie.
     Dis die donker koningin se eie minderwaardigheid wat haar verhoed om haar moederskap te kan uitleef. (My ervaring is dat ’n oordosis ophemeling as kind ook opgeblase, donker prinsesse oplewer.)
     Soos Sneeuwitjie ’n onskuldige slagoffer was, het ons ook nie skuld aan die verwronge spieëls waarin ons van kleins af moet kyk nie. Dis onmoontlik vir enige kind om soos ’n prins of prinses te voel en die lewe met gesonde selfwaarde aan te pak sonder die bewonderende oë van ’n ouerfiguur.
     Die skrywer vertel hoe prinses Diana se gebrekkige selfwaarde haar laat ly het onder die koningshuis se versmorende paleisreëls. Vandag lyk ons "paleisreëls” anders: "Ons staan op die wêreldverhoog van die global village. Ons Facebook en twiet, maar ons klein stemmetjies word verswelg deur die massas om ons heen.”
     Deesdae is dit meer as ooit van lewensbelang dat jy jou innerlike lewe leer ken.
     Maar juis Sneeuwitjie en prinses Diana se swaarkry het hulle die woud ingedwing. "Ons het almal swart koninginne nodig – ’n soort noodlot wat ons die woud instuur en ons só op ’n reis plaas na heelwording en innerlike volwassenheid.”
     Mense word herhaaldelik deur depressie, ongelukke, verhoudingskrisisse, verliese, verslawings, eetstoornisse of middeljaaraanpassings gedwing op ’n pad van groei. Ook deur dooie huwelike, "waar vennote in glaskiste langs mekaar op dubbelbeddens lê”.
     ’n Lang reis, oor sewe berge en deur sewe valleie, is nodig. Universeel beskou staan die getal sewe vir die trappe van ontwikkeling.
     Die skrywer vermaan wel: "Mense is altyd te haastig as dit kom by werk aan hulle innerlike situasies en geluk vind. Die psige en die onbewuste veral laat hom nie aanjaag of voorskryf nie.”
     So vertel-vertel dek dié toeganklike inleiding tot die Jungiaanse sielkunde al die bakens in ’n helingsproses en ons spirituele ontwikkeling.
     Die boek is ook vir waarheidsoekende mans bedoel. Mans se vroulike kant bepaal hul emosionele intelligensie, gevoelens van sinvolheid en verhoudingsgeluk.
"Dit is daarom tragies om te sien hoedat suksesvolle sakemanne op hul oudag, pleks van wyse ou manne, bitter, krenterig en magsbehep raak.”
     So baie van hulle sterf binne een of twee jaar ná aftrede omdat hulle "binne leeg gebly” het.
     As ons die simboliek van ’n eenvoudige sprokie soos Sneeuwitjie leer verstaan en benut – soos dié boek ons leer hóé – weet ons ook hoe om drome en die gebeure in ons lewe as spieël te gebruik. Selfinsig plaas ons op die pad na ’n ryker, dieper en vervulde lewe.

Truida Heymann, ’n sielkundige en skrywer van Die ring en Reis na binne.

 



RESENSIE

 

PRINSES vind die skoen

 

Resensent: Wilhelm Jordaan.
Rapport


Die bekende joernalis en Jungiaanse ontleder Cas van Rensburg brei in dié boek uit op sy 1998-werk Die sprokie van Diana, prinses van Wallis: Sneeuwitjie en al die verhale wat ons leef, wat verskyn het enkele maande nadat Diana in 1997 in ’n motorongeluk in Parys, Frankryk, gesterf het.

Is so ’n projek enigsins ter sake vandag? Die eenvoudige antwoord is "ja”.

Enersyds het prinses Diana ’n haas onvernietigbare ikonstatus verwerf vanweë die sprokiesaard van haar lewe en sterwe. Sy boei steeds mense se aandag.

Andersyds word die sprokie Sneeuwitjie, al is dit eeue oud, vandag nog met variasies vertel (in 54 tale regdeur die wêreld), terwyl verskillende vertolkings daarvan steeds voortgebring word in letterkundige werke, teateropvoerings en in flieks.

So byvoorbeeld word drie nuwe flieks oor aspekte van Sneeuwitjie vanjaar uitgereik en Sneeuwitjie figureer selfs in videospeletjies.

Die krag en betekenis van sprokies kan inderdaad nie onderskat word nie. Die feit dat variasies van dieselfde sprokies dwarsdeur die vroeëre Europa bekend was in ’n stadium toe die verskillende lande min kontak met mekaar gehad het, steun die aanname dat sprokies gedra word deur ’n kollektiewe onbewuste wat iets universeels van die menslike bestaan uitdruk.

Sprokies soos Sneeuwitjie bly dus tot mense spreek, ook tot die kleinste kleuters, al is die eietydse wêreld anders as dié van die sprokie. Die tipiese sprokiestrant van: "Lank, lank gelede...” en "Eendag was daar...” bevestig die "neutrale” tydruimtelikheid van sprokies en eggo aldus tegelyk die eeue wat verby is én die kragte wat steeds in mense se onbewuste woel en wat hulle help om tot begrip van hul probleme en die oplossing daarvan te kom.

Met sy boek lewer Van Rensburg ’n stewige en belangrike bydrae tot die literatuur oor sprokies. Hoewel hy toeganklik en met ’n populêre aanslag skryf, steun hy ook met groot vrug op ernstige studies oor sprokies.

Die boek bring nuttige insigte, byvoorbeeld oor die relatiewe "armoede” van versuikerde weergawes van sprokies soos Sneeuwitjie. Versuikering impliseer Sneeuwitjie het te make met goedheid (soos beliggaam in Sneeuwitjie) versus boosheid (soos gesimboliseer deur die stiefma-koningin). En dat goedheid oplaas seëvier deur die reddende optredes van die jagter, die dwergies en die prins.

Dit is juis sulke weergawes wat vir kinders vertel word. En dit is goed so omdat dit didakties binne die bevattingsvermoë van jong kinders is. Maar daar is meer.

Van Rensburg toon ook ander betekenislae aan en hoe om dit soos ’n ui "af te skil”. Deur noukeurig by die oorspronklike sprokieteks te hou, blyk dit byvoorbeeld dat die verskillende karakters in die verhaal hulle as’t ware in Sneeuwitjie se onbewuste "aanmeld” om haar te help om iets te verstaan van haar ontwikkelende mensheid. Hierby is ingesluit haar ontluikende seksualiteit, lewenskonflikte én dit wat sy bestem is om te wees as vrou en mens.

Dít is wesenlik waarmee die boektitel, Die prinses in elke vrou, te make het: Hoe daar in elke vrou ’n "Sneeuwitjie” (’n prinses) verskuil is wat verlang na ’n "bestemde” identiteit en waaraan sy lewensvervullend uitdrukking kan gee.

Wat Van Rensburg goed doen, is om enersyds die tersaaklikheid van dié sprokie-element te verbind aan Diana se lewensverloop; dat daar byvoorbeeld "(sprokie)karakters” was wat haar mensheid tegelyk belemmer en gevorm het en haar gehelp het om te ontsnap aan die benouende "glaskis” van die paleisbestaan. Om oplaas bevry te word as ’n volwasse vrou met besondere vermoëns en wat haar kreatief aan ’n "nuwe lewe” kon wy.
Andersyds toon Van Rensburg aan hoedanig die sprokieselement ook parallelle toon met die lewe van moderne vroue wat geknel word deur die patriargale eise van ’n wêreld wat steeds deur mans oorheers word en hoe dit hulle van hul "prinsesskap” ontneem.

Oorwegend is dit ’n betekenisvolle boek. Daar is egter enkele lastighede. Soos Van Rensburg se onkritiese aanvaarding van Jungiaanse begrippe, byvoorbeeld individuasie waarvolgens elke lewende ding (ook mense) se lewensbestemming geneties vasgelê is. Uiteraard is dit ’n ontoetsbare hipotese wat maak dat betekenis-eksegese plek-plek lukraak en naïef is.

Afgesien hiervan is die gebruik van die materiaal soms verwarrend en daar is te veel tipografiese slordighede.

Die boek sou kon doen met ’n strenger redakteurshand.

Wilhelm Jordaan is buitengewone professor in sielkunde aan die UP. ’n Keur van sy rubrieke, Spitstyd, het onlangs by Litera verskyn.

 


Besoek ons blog


Hemel & See Boeke sal jou kommentaar waardeer.